Share This Post

Onnie-kortpaaie: Verlig só jou werkslading

Onnie-kortpaaie: Verlig só jou werkslading

Onderwysers se werk gaan saans saam met hulle huis toe. Daar’s altyd vraestelle om na te sien, verslae om te skryf, lesse om te beplan of ouers om te kontak. Nogtans is dit heeltemal moontlik om met ’n bietjie beplanning jou werkslading te verlig, sodat jy dít wat jy eintlik doen (skoolhou!) meer kan geniet. 

Marie Amaro en Tanya Matthews van The Highly Effective Teacher bied ’n paar slim idees om hierdie doelwit te bereik. 

Een van die eerste taktieke om jou eie werkslading te verlig, stel Amaro voor, is om sommige van jou take te delegeer! Maak ’n lys van al die takies wat jy weet gereeld gedoen moet word. Stel dié lys saam met jou leerders op sodat julle sáám maniere vind om die klaskamer skoon en optimaal werkend te hou. ’n Rotasieskedule kan ingespan word sodat leerders dié takies namens jou kan uitvoer. 

Nog ’n plan is om leerders se onafhanklikheid en onderlinge afhanklikheid te verhoog. Gebruik innoverende saamleer-strategieë, self-gedrewe leer, eweknie-mentorskap, onomskrewe take en probleem-gebaseerde leer in jou lesse. Dit gee leerders meer geleentheid om by mekaar te leer, met hulle eie idees vorendag te kom en self besit te neem van die leerproses. 

Gee leerders onmiddellike terugvoer en probeer om nasienwerk so vinnig as moontlik terug te gee, stel Amaro voor. Gebruik simbole wat leerders verstaan. Fokus eerder op sekere kernaspekte van die werk as om elke klein foutjie uit te wys. Gekleurde penne kan gebruik word om aan te dui hoe leerders hulle werk kan verbeter (groen pen beteken reg, oranje beteken daar’s werk nodig en rooi beteken doen dit heeltemal oor). 

Eweknie-nasienwerk kan jou las effektief verlig! Probeer die “three before me”-idee: leerders laat eers hulle werk deur drie klasmaats nagaan voordat hulle dit by jou inhandig. Boonop beteken hierdie strategie dat leerders by mekaar leer. 

Jy kan ook jou leerders wys hoe om hulle eie werk te assesseer voordat hulle dit inhandig. Deur werk een-tot-een te bespreek terwyl die res van die klas onafhanklik met ’n taak besig is, kan jy uitbrei op geskrewe kommentaar en heelwat tyd en rooi ink bespaar. 

As jy skryfwerk moet nasien en toegang het tot die Internet, is dit dalk nuttig om leerders hulle opdragte aanlyn met jou te laat deel (e-leer). Met Google Docs kan jy na hulle werk kyk terwyl hulle nog daarmee besig is. Deur na leerders se rofwerk of konsepweergawes te kyk, kan jy ook vinnig kommentaar lewer en sorg dat die finale produk so na as moontlik aan die teiken is (en dus makliker om na te sien). 

Nog ’n idee is om vir jou leerders voorbeelde te wys van goeie werk, sodat hulle presies weet wat van hulle verwag word en hulle eie werk by daardie verwagting kan aanpas. Dis verder noodsaaklik dat onderwysers die vaardigheid aanleer om goed te prioritiseer en volgens TeacherToolkit.co.uk behoort ’n onderwyser “aktiwiteite of take te elimineer wat nie ’n noodsaaklike verskil in die klaskamer maak nie.” Gebruik eerder die tyd wat jy aan hierdie take sou bestee om jou onderrigtyd meer doeltreffend te maak. 

TeacherToolkit stel ook voor dat onnies tegnologie gebruik om makliker en beter met kollegas saam te werk – byvoorbeeld deur met behulp van aanlynplatforms en -dokumente te breinstorm, saam te werk aan lesse en kurrikulum-uitkomste bespreek. ’n Mens kan ook doen-lysies aanlyn organiseer, sigblaaie skep om op hoogte te bly van leerders se leerdoelwitte of voordeel trek uit die verskeie apps en onderwysgereedskap wat aanlyn beskikbaar is om jou klaskamer aan die kant te hou en rekord te hou van leerders se vordering. 

’n Laaste voorstel is om ’n vaste roetine vir jou papierwerk te hê. Bly by jou roetine en verseker só dat al jou administratiewe takies altyd betyds afgehandel is. 

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.