Share This Post

inspirasie / klaskameridees / nuus

Wenke om die sprong van hoërskool na laerskool te oorleef.

Wenke om die sprong van hoërskool na laerskool te oorleef.

Na 6 jaar as ‘n hoërskoolonderwyseres het ek die groot skuif gemaak en ‘n graad 4 juffrou geword. Alhoewel my hart nog altyd na die kleiner kindertjies gehunker het, was dit ‘n groot skok en groot aanpassing. Hier is my top 10 wenke aan enige iemand wat graag hierdie skuif oorweeg:

  1. As jy enigsins jou persoonlike spasie geniet, raak ontslae van daardie gevoel.


 

 

 

 

Daag jouself uit en tel hoeveel drukkies jy in een dag kry. As dit te moelik is om deur een dag te kom, vat dit maar uur-vir-uur. Wees ook versigtig vir diè wat die vermoë het om te kleef soos ‘n neet. Baie kinders moet letterlik van jou afgetrek word en ‘n tweede volwassene sal dalk nodig wees om jou met hierdie takie te help.

 Wees ook bewus van die feit dat jy nou ‘n permanente stertjie gegroei het. As jy by jou tafel sit, sal daar altyd ‘n paar gesiggies wees wat ook daar staan. As jy op die bord skryf, moet jy versigtig wees om nie ‘n te groot treë te vat nie, want jy sal dalk bo-oor ‘n kind loop. Hulle volg jou pouse as jy personeelkamer toe stap en as dit jou gelukkige dag is om op speelgronddiens te wees, het jy altyd ‘n paar wat graag die hele pouse lank saam met jou wil stap. Onthou net om nie jou klas direk na skool te sluit nie, want daardie paar leerders wat elke dag klokslag met ‘n stink spoed die laaste drukkie wil inkry, sal jou hart warm maak.

2. Dink drie keer voor jy praat.


 

 

 



Teen die tyd dat kinders in hoërskool kom, is dit meestal veilig om te praat sonder om tè hard te dink oor die vrae wat moontlik kan volg. Hierdie is egter iets waarmee jy uiters versigtig moet wees in die laerskool. Ouers het spesifieke voorkeure vir watter kennis hulle kinders moet hê. Waak teen vrae soos “Waar kom babas vandaan?” en “Is seks ‘n vloekwoord?” Natuurlik kan jy die vrae nie sien kom nie, maar ‘n reaksie soos “Gaan vra maar eerder jou ma,” sal deel word van die frases wat jy elke dag sal gebruik.

Op ‘n ernstiger noot is dit belangrik om te weet dat daar ‘n rede is hoekom leerders eers op ‘n spesifieke ouderdom, in ‘n spesifieke omgewing soos die LO-klas, hieraan blootgestel word, alhoewel die departement van onderwys sê dat leerders in graad 4 reeds hiervan geleer moet word. Lees gerus hier vir meer inligting: https://ewn.co.za/2019/05/14/basic-education-dept-defends-teaching-of-sex-ed-to-grade-4-pupils

3. Skaf ‘n besem, emmer, lap en ‘n paar ekstra vullisdromme aan. 

 

 

 

 

In die hoërskool kan die meeste kinders darem gewoonlik ‘n slukkie uit hulle waterbottel neem sonder om dit oor die vloer uit te gooi. Hierdie takie is ongelukkig nie so eenvoudig vir ‘n graad 4 leerder nie. In die verlede het ek nooit eens ‘n besem in my klas gehad nie, maar na die ervaring wat ek nou opgedoen het, sal ek nie kan onderrig sonder een nie. As dit nie springmielies is wat die hele vloer vol lê nie, dan het die een per ongeluk die ander een se tas omgeskop en lê daar OROS oor die vloer uitgeloop. Hierdie is maar net een gedeelte van hierdie groot les.

Soms vra jy elke dag vir ‘n briefie wat moes terugkom, of jy wil sien of die boek nou uiteindelik oorgetrek is. Die kind bring dan nou sy tas nader dat hy dit kan soek. Hier is nou die waarskuwing: “Be careful what you wish for”. Hulle sal daai briefie daar doer onder uit die tas uitgrawe tussen die gebarste piesang of perske. Soms druk hulle sommer hulle halfgeëete toebroodjie direk in die tas na pouse. As jy die leerders help om hulle assesseringstake te liaseer in hulle Flip Files sal jy soms vind dat die bladsye aan mekaar kleef en dat amper niks dit kan loskry nie. Hier is ‘n tikkie raad: Moenie vra hoekom die bladsye so vaskleef nie, ek kan jou waarborg die antwoord gaan jou net met ‘n naar gevoel agterlaat.

4. Maak seker jy is medies gereed vir enige iets.


Ek dink dit is veilig om te sê dat ouers bereid sal wees om enige iets vir hulle kinders te doen. Mammas en pappas sal sommer daai kat wat geskiet word in hulle hande vang… maar is dit regtig iets wat ‘n mens wil doen vir kinders wat nie “eintlik” aan jou behoort nie? Wel, ongelukkig het jy nie ‘n keuse nie. Gelukkig kan daardie vloerlap en emmer hier baie handig word. 

Een van die groot verrassings wat ek ontvang het, nie een keer nie, ook nie net 3 keer nie, is ‘n tand. Ja, jy lees reg. Die kind het sy tand getrek. En wees versigtig! As een kind sien sy maatjie kom terug van die badkamer met ‘n tand in die hand, wil hy ook gou badkamer toe gaan om sy eie tand ook te gaan trek. Later kan jy amper vir die tandemuis ‘n permanente woning stig in die tandkasteel wat jy kan bou.

Net om weer die ernstiger kant van sake aan te raak, is dit werklik belangrik vir elke onderwyser om ‘n noodhulpkursus by te woon. In ses maande het ek al ‘n kind gehad wat haar neus in twee plekke gebreek het en ‘n kind wat in die middel van my les verstik het aan ‘n skelm lekkertjie in sy mond.

5. Bou ‘n verhouding met die ouers.

 

Hoërskool ouers raak nie sommer betrokke nie, behalwe as daar ‘n probleem is. In die laerskool is die ouers baie betrokke. Dis seker te verstane aangesien die leerders nog so jonk is. 

So maak jou maar gereed om alle huiswerk, alle vordering, die kind se gedrag, wat die kind gesê het, gedoen het en dalk selfs geëet het daagliks aan die ouers te rapporteer. Moet ook nie vergeet om in te sluit wat vandag in die klas behandel was, presies wat in die boek geskryf is, watter briefies huis toe gestuur is, wie se huiswerk nie gedoen was nie, maar meer belangrik wie se huiswerk WEL gedoen was ook by te las nie. Konstante kommunikasie is ‘n moet.

6. Leer om alles stap-vir-stap te verduidelik.


 

 

 


Letterlik. Stap. Vir. Stap. ‘n Goeie plek om te begin is om hulle te groet. Vra hulle dan om te sit. Wag dat almal sit. Vra hulle moet hulle boeke uithaal. Wag dat almal se boeke uit is. Vra hulle moet hulle boeke oopmaak. Wag dat almal se boeke oop is. Vra hulle om te gaan na hulle laaste werk. Wag dat almal by hulle laaste werk is. Vra hulle om een lytjie te tel onder hulle laaste werk. Wag dat almal die een lytjie tel. Vra hulle moet die datum aan die linkerkant skryf. Wag dat hulle die datum aan die linkerkant skryf. Vra hulle moet die opskrif aan die regterkant skryf. Wag dat hulle die opskrif aan die regterkant skryf. Vra hulle moet die opskrif onderstreep. Wag dat hulle die opskrif onderstreep. Vra hulle moet hulle handboek uithaal. Wag dat hulle hulle handboek uithaal. Vra hulle moet dit oopmaak op bladsy 18. Herhaal ‘n paar keer dat hulle na bladsy 18 moet gaan. Goed. Nou is jy reg om te begin met die dag se werk.

Die goeie nuus is dat hulle na so ‘n kwartaal dit bietjie vinniger kan doen, maar jy moet hulle steeds gereeld herinner watter stappe gevolg moet word. Hierdie was een van die moeilikste aanpassings vir my. Ek het altyd gedink dit is erg dat graad 8’s vra wat om te doen as hulle aan die einde van ‘n blad kom of met watter kleur pen hulle moet skryf, minwetend…

7. Pasop vir die waterwerke.

 

 

 

 


Kinders huil baie maklik. As dit nie is waarvoor jy voorbereid is nie, kan dit jou lelik onkant vang. Maak seker jy het altyd tissues op jou tafel. Hulle kan huil oor enige moontlike rede onder die son. Op my eerste dag in die klas het twee meisies gehuil omdat hulle albei dieselfde groen pen wou gebruik. Wees voorbereid. Dit gebeur. Oor enige iets. Enige tyd.

8. Oefen gereeld jou “poker face”

 

 

 

 

Oefen elke dag jou vermoëns om alles wat jy dink en voel en ervaar totaal weg te steek. Oefen voor die spieël as jy moet. Onderwysers speel ‘n baie groot rol in kinders se lewens. Gewoonlik is kinders baie gemaklik met hulle onderwysers en hulle vertrou hulle volkome. Dit beteken dat hulle nie regtig enige filters het wanneer hulle met jou praat nie (nie dat ek heeltemal oortuig is dat hulle ‘n filter het met vreemdelinge nie). Hulle sal maklik uitwys as jy ‘n puisie op jou neus het of sommer skilfers uit jou hare probeer haal. Hierdie is nog die meer onskuldige dinge; enige onderwerp kan enige tyd opkom. Eintlik is dit glad nie beperk tot onderwerpe nie. Soms kan enige reuk enige tyd uitkom. Soms is daardie reuk so ondraaglik dat jou neusspiere baklei om op te trek.

Die beste raad wat ek kan gee in ‘n situasie waar jy regtig al jou kragte inspan om nie te reageer nie: moenie oogkontak maak nie. Met niemand nie. Nie ‘n ander kind nie en veral nie met ‘n ander volwassene nie. Verdwyn iewers in ‘n verbeeldingswêreld. Sterkte!

9. Kry vir jou iets om vir jou energie te gee.


 

 

 

Red bull en koffie kan net dalk jou beste nuwe vriend word en jou klinieksuster sal jou elke paar weke inwag met ‘n energie-boostertjie. Alle onderwysers word nie net fisies nie, maar ook emosioneel gedreineer. Wanneer ‘n mens met kleiner kinders werk, moet jy ekstra baie energie inspan om te verseker dat jy op hulle vlak met hulle kan kommunikeer. Hulle kom ook na jou toe met probleme wat vir ons as grootmense simpel klink, maar vir hulle ‘n baie groot probleem is. Hulle het gereeld leiding nodig om probleme op te los, te werk aan verhoudings en om te verstaan wat aanvaarbaar is in die samelewing en wat nie. Aan die einde van jou skooldag voel dit vir jou of jy ‘n maand vakansie nodig het. 

10.Beloon jouself gereeld met ‘n manicure

 

 

 

 


Ek herhaal: Beloon jouself gereeld met ‘n manicure, want jy gaan jou vingers stompies merk. Met die kleiner kinders is dit belangrik om elke antwoord te merk, elke fout aan te dui, elke korrekte antwoord neer te skryf. Baie onderwysers sal hier met my verskil… wag, ek is een van hulle… maar dit is eintlik wat van ons intermediêre fase onderwysers verwag word. Natuurlik prioritiseer ‘n mens en merk die goed wat van uiterste belang is meer deeglik. As jy vir jouself baie moeite wil spaar, merk dan verskriklik deeglik in die eerste twee maande van skool sodat leerders gou leer wat van hulle verwag word. Dit beteken dat jy maar ‘n boks rooi penne vir jou kan aanskaf. 

Dit is dan my vinnige 10 wenke vir onderwysers wat graag wil skuif na ‘n laerskool toe. Ek het juis die moeiliker wenke gegee en die “lekkerder” wenke soos Koop solank ‘n paar broeke wat groter is (as gevolg van al die bederfies wat jy gaan kry) uitgelaat omdat ek hierdie dinge sien as belonings. Ek sal nooit sê dis makliker om ‘n hoërskool onderwyser te wees nie, want ek weet dat persoonlikheid en die area en bestuur dra alles by tot hoe moeilik dit is om iewers te onderrig. Vir my is dit baie moeiliker in die laerskool, maar my hart is gelukkig en ek geniet die onskuld en kinderlikheid en die gretigheid om te leer waarmee ek elke dag te doen kry. Die kinders word so lief vir jou en wil weet wat was verkeerd as jy skool mis. Alhoewel daar baie verskille tussen hoërskool en laerskool is, is die een konstante dat daar kinders betrokke is… en waar kinders betrokke is, kan ons onderwysersharte gerus en tevrede wees. 

Los gerus jou kommentaar oor wat vir jou anders was met die skuif van hoërskool na laerskool, gee ook jou eie wenke. Dit sal lekker wees om te hoor hoe mense die sprong van laerskool na hoërskool ook ervaar het. 

Share This Post

Wilmari Pretorius is 'n Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal-onderwyseres in Gauteng. Sy het 'n BA graad in Taal en Kultuur en 'n nagraadse onderwyssertifikaat verwerf by die Universiteit van Stellenbosch. Sy is passievol oor twee dinge: Afrikaans en kinders. In haar vyf jaar in die onderwys, het sy besef dat daar baie tyd en kreatiwiteit nodig is om leerders te motiveer om te leer. Daaruit het haar liefde vir die tegnologie gespruit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>