Share This Post

Die reg op opgeleide onderwysers die fokus van Wêreldonderwysersdag, sê FEDSAS

Die reg op opgeleide onderwysers die fokus van Wêreldonderwysersdag,  sê FEDSAS

’n Wêreldwye tekort van nagenoeg 69 miljoen onderwysers hou ’n ernstige bedreiging in vir onderwys as fundamentele reg. Daarom fokus vanjaar se viering van Wêreldonderwysersdag op die tema “Die reg op onderwys beteken die reg op ’n gekwalifiseerde opvoeder”.

Die Verenigde Nasies vier die dag internasionaal op 5 Oktober elke jaar. In Suid-Afrika val dié datum egter in die skoolvakansie. Om seker te maak dat onderwysers wél die erkenning kry wat hulle verdien, vier die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) Wêreldonderwysersdag in Suid-Afrika jaarliks op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal. Vanjaar val dié datum op 12 Oktober.

“Vanjaar is ook die 70ste herdenking van onderwys as ’n fundamentele reg ingevolge die Universele Verklaring van Mensregte,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.

Colditz sê hoewel Suid-Afrikaanse kinders ook ’n reg op vrye en verpligte onderwys met inklusiewe en billike toegang het, skets onlangse mediaberigte ’n donker prentjie. “Derduisende openbare skole in Suid-Afrika is sonder ’n skoolhoof of adjunkhoof. Die tekort aan onderwysers in klaskamers is selfs nog groter. Dit kom daarop neer dat alle kinders nie billike toegang tot onderwys het nie. Die gevolge hiervan is elke jaar duidelik wanneer ouers desperaat probeer om hul kinders in skole te kry waar hulle wél verseker sal wees van gehalte-onderrig.”

Teen hierdie agtergrond raak FEDSAS se doelwit van gehalte-onderrig in openbare skole selfs meer krities. “Dit is nie genoeg om een keer per jaar onderwys as beroep te eer nie. Inteendeel, die beroep moet weer in ere herstel word. En daarvoor is samewerking tussen alle rolspelers noodsaaklik. Jong studente gaan nie kies om onderwysers te word wanneer swak bestuur, administratiewe uitdagings en selfs hul veiligheid in die klaskamer so ’n ernstige probleem is nie.”

Colditz sê dit is egter steeds belangrik om hulde te bring aan daardie onderwysers vir wie die taak ’n ware roeping is. “Dit is hierdie mense wat die wiele aan die rol hou. Wat kinders vorm, leer en inspireer en sodoende ’n nuwe geslag leiers vir ons land slyp.”

FEDSAS doen ’n beroep op oud en jonk om op 12 Oktober hul skool of ’n onderwyser te kontak en hulle te bedank vir hul onmisbare rol. Die personeel van FEDSAS se nasionale kantoor in Bloemfontein sal die dag by die Dr. Böhmer-vaardigheidskool in dié stad deurbring.

FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 2000 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.