Share This Post

Afrikaans EAT / klaskameridees / nuus

My skuif na die laerskool en hoe ek nou Afrikaans EAT aanbied

My skuif na die laerskool en hoe ek nou Afrikaans EAT aanbied

Ek was so opgewonde toe ek hierdie jaar uiteindelik ‘n laerskoolpos gekry het. Ek hou nou al vir ses jaar lank skool en was nog altyd in hoërskole met ‘n fokus op graad 7 tot 9.

Wanneer ‘n mens gewoond is daaraan om vir ouers kinders skool te gee, is dit nogal ‘n aanpassing om laerskool toe te skuif. Ek gee Afrikaans EAT vir graad 4 – 6 en het óók my eie graadvyfklassie vir wie ek sosiale- en natuurwetenskappe aanbied.

Ek is baie gelukkig by die laerskool, maar moes baie vinnig my onderwysmetodes aanpas om beter klas te gee vir die kleintjies. Omdat ek ‘n Afrikaans EAT-onnie is, is daar ‘n paar uitdagings wat my in die gesig staar:

  1. By my skool het ons slegs 3 ure Afrikaans per week.
  2. Lesse is ‘n volle uur lank (help!)
  3. Die kinders leer baie min Afrikaans in die grondslagfase omdat die fokus op die aanleer van Hebreeus is.
  4. Engelse klasonderwysers het nog altyd die vak aangebied (steel bietjie van die tyd vir belangriker dinge).
  5. Geen handboeke nie (ek moet alles self maak) en blootstelling tot Afrikaans is minimaal; al bly ons in die Kaap!

Ek weet nog nie lekker hoe om al die “struikelblokke” aan te pak nie, maar het begin met onderwysermateriaal en lesbenaderings.

Hoe ek ‘n perfekte 1 uur les struktureer

Omdat ek tussen klasse beweeg, is ek gewoonlik bietjie laat vir die les. Dan is dit eers ‘n paar minute om almal gefokus te kry en om boeke uit te kry.

Ons werk volgens temas en kinders kry ‘n sekere hoeveelheid woorde om te leer vir die kwartaal. Ek glo nie meer so baie in woordeskattoetse nie, net omdat kinders dit die dag na die toets onthou beteken nie hulle weet hoe om dit te gebruik nie.

Ek begin met driloefeninge saam met die kinders (skryf neer agter in jou boek, op ‘n witbordjie of ‘n stuk papier) ‘n paar woorde in Afrikaans en vertaal ‘n sin. Ons lees dit dan hardop, ek skryf ‘n paar sinne op die bord, maak foute reg (of vra die klas om foute reg te maak) en doen dan koorlees van die sinne op die bord. Dit help met uitspraak. Ons kyk ook na klanke en hoe ons dit uitspreek.

Daarna is dit sinne-maak-tyd en (kinders is in groepe of in pare opgedeel) hulle moet dit dan hardop vir mekaar lees en mekaar se foute regmaak. Ek maak seker dat almal dit gedoen het en stop hulle na ‘n paar minute anders voel dit asof ons nie genoeg werk gedoen kan kry nie.

Dan begin ons met wat ook al die aktiwiteit van die les is. Dis gewoonlik ‘n werkkaart (begripstoets, taaloefeninge, driloefeninge, sinne skryf – alles in konteks van die tema). Ek verduidelik die konsep (indien dit nuut is, of hersien gou). Daarna ek doen ‘n paar voorbeelde op die bord en die kinders doen dan die kort aktiwiteit. Ons gaan dan deur die antwoorde en gee kans vir almal om dit reg te maak.

Aan die einde van die les (indien daar tyd is – gewoonlik nie) of sing ons ‘n Afrikaanse liedjie, gebruik ‘n app om woordeskat of taalreëls te oefen, soos bv. Quizlet, Kahoot of Quizizz.

In elke les probeer ek om al die KABV-vaardighede te dek.

Omdat dit laerskool is en kinders ook baie sukkel, is daar baie vrae tussenin. En kinders is baie afhanklik van die onderwyser. Dis maar nog iets waaraan ek gewoond moet raak (wanneer kan sê “ek het reeds verduidelik” of “probeer self” en wanneer kan ek weer verduidelik).

Dit klink nie baie innoverend nie en dis nogal baie “old school,” maar dis hoe kinders die beste leer. Ek het begin wegbeweeg van te veel tegnologie in my klas omdat dit ongelooflik baie tyd mors en ek nie altyd die resultate daarvan sien nie – as ek 10 minute verloor weens tegnologie (log in, gaan haal chromebooks, die kode werk nie, watter website nou weer?, al daardie vrae) is dit ‘n hele les wat ek verloor elke twee weke.

Wat ons ook gereeld doen:

  • Hardoplees (ek sukkel hiermee omdat ons nie baie oulike boeke het nie)
  • Dialoë en opvoerings (tydmors soms!)
  • Leer liedjies (dit verg nogal baie moeite en tyd, maar dit werk!)
  • Ek het die departementele werkboekies vir graad 3 EAT vir my graadviers afgerol. Hulle werk daarin as hulle vroeg klaar is, maar sukkel baie.

In my volgende blog skryf ek oor hoe ek nog steeds tegnologie in my klas gebruik (in matigheid!). Lees dit hier.

Hoe bied jy Afrikaans EAT in die laerskool aan? Wat is jou grootste uitdagings?

 

LEES VERDER:

Aangevulde realiteit (AR)

Wenke om die sprong van hoërskool na laerskool te oorleef

ClassDojo: Effektiewe kommunikasie met ouers

Voordele van tegnologie in die klaskamer

KLIEK: ‘n Vars manier om Afrikaans EAT aan te bied

Tablette in skole – die voordele en nadele

Idees om woordeskat te bou

 

Share This Post

Jean Vermeulen is 'n passievolle Afrikaans-onnie wat deesdae onderwysers met tegnologie in die klaskamer help. In 2011 het hy Onnies Online begin toe hy nog aan Maties onderwys studeer het. Onnies Online is 'n Afrikaanse bymekaarkomplek vir onnies. Idees. Hulpbronne. Inspirasie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>