Share This Post

Tablette in skole – die voordele en nadele

Tablette in skole – die voordele en nadele

Een oomblik het ons gedink dat een tegnologiese toestel in elke leerder se sak ‘n bekommernis gaan wees, maar nou het leerders tablette en skootrekenaars ook. Tablette is nou so deel van ons opvoedingssisteem dat dit nie net in privaatskole gebruik word nie, maar baie publieke skole verskaf nou ook toestelle aan die leerders. Al die verskillende toestelle kan verseker ‘n kopseer in ons klaskamers veroorsaak, maar die voordele daaraan kan definitief nie misgekyk word nie. Hier is nou ‘n paar voordele en nadele van tablette in ons klaskamers.

Voordele:

Apps/ Toeps

Daar is duisende toepassings wat jy kan gebruik om leer te bevorder. Julle kan saam na video’s kyk oor die tema wat bespreek word, take kan op ‘n interessante wyse aangebied word en ander toep-vervaardigers en onderwysers se idees kan met die wêreld gedeel word. Daar is soveel verskillende tipe toepassings, dat daar iets is vir elke leerder se belangstellings en leerstyl. Wanneer leerders teen hulle eie tempo en op ‘n toep wat hulle interesseer werk, voel hulle ‘n sin van persoonlike beheer oor die leerproses wat hulle dan kan motiveer om harder te werk en verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.

E-teksboeke

Leerders kan hulle handboeke op hulle tablette hê en dit beteken hulle sal nie boeke by die huis vergeet nie, hulle hoef nie swaar te dra aan ‘n hoop boeke wat hulle nie noodwendig elke dag gaan gebruik nie en alles is bymekaar. Die meeste elektroniese handboeke het verskillende funksies wat ‘n mens kan gebruik om te “highlight”, notas in te voeg en om ander tekste aan te heg. Leerders kan dus al die inligting op een plek hê en dit is selfs nog geriefliker as dit ‘n invulhandboek is.

Kommunikasie

Daar is geen makliker manier om met jou leerders te kommunikeer nie. Of jy nou vir hulle ‘n e-pos stuur of ‘n boodskap op Google Classroom of selfs ‘n nota in hulle handboek los, dit sal verseker by hulle uitkom. ‘n Verdere voordeel wat hierby aansluit, is dat dit baie makliker is om werk in te handig wanneer tablette gebruik word. Daar is verskeie maniere om dit te doe – hulle kan dit selfs Bluetooth! Daar is baie maniere om seker te maak dat jy die huiswerk en take betyds kry.

Papierlose klaskamers

Jy kan alles elektronies vir die leerders stuur. Dit is baie meer omgewingsvriendelik om op tablette te werk. Nou hoef jy nie meer ure by die afrolmasjien te staan nie en daar sal nooit meer te min kopieë van ‘n uitdeelstuk wees nie. Jy kan nou ook meer inligting met jou leerders deel, omdat jy nie hoef te dink aan die gevolge van meer goed uitdruk en afrol nie.

Die klas kan saam werk

Die onderwyser kan een dokument opstel en op ‘n live dokument kan die hele klas saamwerk. Dit skep die geleentheid om eenheid in die klas te vorm en om in ‘n kort tydjie soveel moontlik opinies bymekaar te maak. Lees gerus oor die moontlikheid om dit gratis op Google te doen: https://www.onniesonline.co.za/google-education-n-waardevolle-hulpmiddel-vir-jou-klaskamer/

Kontrole

ie meeste opvoedkundige toeps op tablette gee vir jou die opsie om te sien wanneer die leerders aktief besig is/was op die toep, jy kan hulle bydraes sien, hoe lank hulle daarop spandeer het en selfs hulle punte op quizzes. Hierdie gee vir jou die beheer om seker te maak dat al jou leerders betrokke bly.

Leerders hou daarvan

‘n Leerder wat dit geniet om sy werk te doen, gaan beter presteer. Wanneer leerders dit geniet om van iets te leer sal hulle ook die moeite doen om te gaan soek na verdere inligting.

Inligting is vrylik beskikbaar

Leerders hoef nie na skool na die biblioteek te gaan nie, hulle kan in klastyd soek na die inligting wat bespreek word. Daar is ook baie meer bronne op die internet beskikbaar en ook die nuutste inligting, wat nie die geval sal wees wanneer leerders boeke in die biblioteek raadpleeg nie.

Leerders met spesiale behoeftes kan bygestaan word

In spesiale skole kan tablette gebruik word om leerders by te staan omdat dit so maklik manipuleerbaar is en opgestel kan word om hierdie leerders te help. Dit bied ‘n unieke manier van kommunikasie met die leerders wat die leerders kan help om die werk beter te verstaan.

Nadele

Afhanklik van internet en WiFi

Een van die grootste nadele van tablette in die klaskamer is dat ‘n mens totaal afhanklik is van internet en ‘n goeie WiFi-verbinding. Ongelukkig kan ‘n mens nie altyd staatmaak op die internet nie en dit beteken dat lesplanne soms omvergegooi word. Leerders moet ook toegang tot internet en WiFi by hulle huise hê as dit van hulle verwag gaan word om take by die huis te voltooi of om in interaktiewe opdragte deel te neem.

Dit is duur

Eerstens is dit duur om die proses aan die gang te sit en verder is dit nie so eenvoudig om ‘n tablet te vervang soos wat dit is om ander boeke of skryfbehoeftes te vervang nie. Aan die ander kant is elektroniese handboeke heelwat goedkoper as fisiese handboeke. Die ideale plan sal wees as die skool ‘n program het wat die tablette kan verskaf, maar die meeste skole het nie die kapitaal daarvoor nie.

Dit is ook nodig dat skole ‘n “charging station” moet hê of dat daar genoeg kragpunte in elke klas is dat leerders hulle tablette kan laai as dit pap is. Dit is ook duur om dit te installeer en te onderhou. Dit is dalk die leerders se verantwoordelikheid om seker te maak dat die toestel gelaai is, maar as dit nie krag het nie, het die leerder nie toegang tot hulle werk of hulle handboeke nie.

Verder sukkel leerders soms om reg te kom met die standaard tablet. Hulle het soms ‘n ekstra keyboard of ander toerusting nodig wat die ouers ook geld uit die sak gaan jaag.

Aandag afleibaar

Net soos wat dit ‘n voordeel is dat daar soveel toepassings en inligting beskikbaar aan leerders is, so is dit ook ‘n nadeel. Leerders geniet dit om nuwe speletjies te probeer en met mekaar op sosiale media te gesels. Baie skoolgaande kinders het nie die selfdissipline om nie hierdie goed in die klaskamer te doen terwyl hulle eintlik op hulle akademie moet fokus nie. Dit beteken dat onderwysers baie meer paraat moet wees om te verseker dat leerders besig bly met hul werk.

Dit werk nie vir alle leerders nie

Die realiteit is dat tablette nie die beste opsie is vir alle leerders nie. Baie leerders wat sukkel om georganiseerd te wees, sukkel om hulle werk op te spoor en mors onnodige tyd. Baie leerders sukkel om by te hou as ‘n mens lees op die tablette en nog ‘n probleem is dat baie leerders nie besef hoeveel werk hulle moet leer nie, omdat hulle nie ‘n fisiese boek voor hulle het om te sien wat nog voorlê nie. Ouers word soms gefrustreerd omdat hulle nie deur hulle kind se boek kan blaai om te sien wat hulle al gedoen het nie. Daar is natuurlik ‘n wonderlike oplossing hiervoor: gebruik ‘n toep wat die ouers insluit of skep ‘n gratis webtuiste waarna die ouers kan gaan kyk, maar hierdie is nie oplossings waarby alle onderwysers aanklank gaan vind nie.

Onderwysers moet opgelei word

Dit is nie vanselfsprekend dat alle onderwysers gaan speel en sukkel en krap tot hulle al die toeps het wat hulle klaskamer tot sy volle potensiaal gaan benut nie. Baie onderwysers het ook nie die kennis hoe om met ‘n tablet te werk nie. Dit beteken dat onderwysers op kursusse moet gaan om hierdie kennis te kry en hulle moet ook gemotiveer word om dit te WIL gebruik. Een oplossing is dat daar altyd een of twee onderwysers in ‘n skool is wat dit baie geniet om met tegnologie te speel en te eksperimenteer en hulle kan altyd kort sessies hou waarin hulle die basiese inligting oordra en die interessante “skatte” wat hulle al gevind het, kan deel.

Makliker om huiswerk “af te skryf”

In die verlede het leerders aflesse nodig gehad om werk af te skryf of hulle moes dit vinnig in pouse of voor skool doen. Hulle moes steeds die woorde neerskryf wat darem gehelp het dat hulle dalk so ‘n bietjie daarvan kan onthou. Nou kan hulle bloot die werk vir mekaar stuur en hulle eie naam daarop sit. Dit is dus belangrik dat onderwysers nou-en-dan in diepte na leerders se antwoorde kyk om te verseker dat hierdie probleem nie intree nie.

Tegnologie is ‘n onmisbare deel van ons toekoms. Ons is nou nog aan die begin van die generasie waar tablette deel van ons opvoeding is, maar dit is iets wat baie waardevol is. Daar is nog probleme en dinge wat krap, maar die uitdaging is eerder om oplossings te probeer vind vir hierdie probleme as om dit af te skryf. As jou skool so bevoorreg is om tablette in die klaskamer te gebruik, wil ek jou uitdaag om hierdie geleentheid ten volle te benut. As daar dinge is wat te veel van ‘n hindernis is, gebruik ‘n kombinasie van tablette en handboeke/skryfboeke. Ek dink ons is gelukkig om deel te wees van die opwinding en ons moet maniere vind om mekaar te motiveer en die groot kuberwêreld se kennis met mekaar deel.

Bronne:

  1. https://mastersed.uc.edu/news-resources/the-ipad-debate-are-ipads-truly-helping-with-education/
  2. http://www.teachhub.com/advantagesdisadvantages-ipad-classroom

Lees verder:

Idees vir woordeskatuitbreiding

Nuwejaarsvoornemens vir onnies

10 maniere om lees in jou skool te bevorder

Digitale etiket en waarom dit belangrik is om ons leerders hiervan te leer

Wow! Kyk hoe dollie hierdie onnie sy klaskamer op!

10 idees vir jou klaskamer

Deel jou (GRATIS) hulpmiddels met ander onnies

Wenke vir jou volgende onderhoud

Jou skool benodig ‘n webtuiste: Kwikweb kan help

Video’s vir derdetaalleerders

200 + Wiskundevideo’s vir graad 4 – 7

10 koöperatiewe leerstrategieë (en apps wat handig is daarvoor)

Adverteer onderwysposte / vind jou droompos!

Alles wat fout is met ons skole in een video

Quizpedia: Laat leerders hul eie vasvrae ontwerp!

6 Memes wat net onnies sal verstaan

Maklike DIY vir ingenieurtjies in jou klas – STE(A)M

Quizlet: Maak digitale flitskaarte!

Idees vir poësie-maand

5 Wenke vir beter klaskamerbestuur

Idees: Maak jou eie leeshulpmiddel!

Idees: Maak stil snoesies!

Inspirasie: Maak jy ‘n verskil?

Inspirasie: Hoe om ‘n gebroke skool heel te maak

Digitale Media in die Afrikaansklas

Afrikaanse hulpmiddels

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.