Share This Post

Moenie moed opgee nie!

Moenie moed opgee nie!

Maak nie saak waar jy skool gee nie, daar gaan altyd daardie een dag wees waar jy voel dat jy net wil opgee en bedank. Jy voel dat daardie klein wetters (dalk gebruik jy ‘n sterker woord) jou nie as onderwyser waardeer nie. Niemand verstaan hoe hard jy werk nie. Mense dink jou “halfdag-werk-waarvoor-jy-te-veel-betaal-word” is mos maklik. En elke ouer dink mos sy of haar Piet of Sannie is veronderstel om die beste in die klas, span of aktiwiteit te wees.

Somtyds is dit moeilik om jou omstandighede te aanvaar. Selfs privaatskole kan soms ‘n nagmerrie wees. Klein klassies en al! My hoof hou daarvan om vir my die storie te vertel van ‘n vooraanstaande onderwyser van ‘n vooraanstaande skool wat destyds by ons skool aangestel is. Ek werk by ‘n privaatskool waar die skoolgelde amper meer as my salarissie is, maar moenie dink dit maak die houdings en dissipline van die leerders enigsins beter nie. Maar in elk geval. So teen die middel van die eerste dag soek die kinders en onnies haar. Waar sal sy wees? Uit by die hek. Weg. Die sekuriteit sê sy is met ‘n stink spoed daar weg. Sy is my inspirasie om NIE te quit nie. Jy wil tog nou nie DAARDIE onnie wees. So, wat nou?

  1. Hou ‘n kla-sessie

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie. Daar is ‘n negatiewe-Nellie hoekie in elke personeelkamer, ek praat nou nie van elke dag en elke minuut nie. Jy moet elke nou en dan ‘n bietjie kla om al daardie swaarheid van jou hart af te kry. En jy moet praat met iemand wat verstaan. Wat sommer in dieselfde omstandighede as jy is. Iemand wat verstaan wanneer jy sê dat daardie een kind (of ouer) jou so erg irriteer dat jy dalk ‘n Mrs. Trunchbull op die siel gaan trek en die arme sieletjie by die venster uitgooi. Hou eerder die kla-sessie saam met iemand wat in die onderwys is. ‘n Glasie wyn gaan is ook glad nie so erg saam met ‘n kla-sessie nie. Hou net matigheid voor oë. Dronkverdriet oor “kinders wat jou lewe ruϊneer” is dalk nie die beste opsie vir jou gestel in jou tingerige toestand nie. Onthou ook net om te lag terwyl julle besig is met die kla. Huil. Kla. Lag. Dis die beste medisyne vir ‘n onnie.

  1. Reflekteer

Een ding wat op universiteite by onderwysstudente se koppe ingedril word, is refleksie. Reflekteer na elke les, reflekteer na elke proef, reflekteer, reflekteer… reflekteer. Wel, dit het nogal ‘n goeie doel. Wanneer jy voel dat niks regloop nie is dit ‘n baie goeie idee om stil te raak, diep asem te haal, en oor jou dag, week of kwartaal te reflekteer. Vra jouself hoekom jy eweskielik jou werk so haat. Wat maak daagliks jou dag? Wat kan ek vandag nog verbeter? Hoekom is ek so negatief? Wie kan my help? Wat werk en wat werk glad nie? Ons het so min tyd om oor hierdie goed te dink dat ons baie maklik in ‘n doolhof van negatiewe gedagtes kan verdwaal.

  1. Prioritiseer

Jy is oorlaai. En dan sien jy daardie een onnie by die skool wat elke afperiode in die personeelkamer sit en chill. Het hulle dan nie werk nie? Wat doen hulle verkeerd? Glo my daar is ‘n paar lui onnies wat daar sit en vergaan, maar ander is oppie boll! Om goed georganiseerd te wees is iets wat jy met tyd aanleer (of nooit as jy dit net gaan ignoreer). Om meer produktief te wees moet jy eerstens weet wat jy gedoen moet kry en tweedens hoe lank dit jou gaan vat om gedoen te kry. Maak lysies! Moenie lag nie, dit werk. En nie in jou kop nie. Ons is almal meester-multi-taskers, maar niemand van ons is perfek nie. Orden ook jou lysies. Wat moet eerste gedoen word? Wat wil ek graag eerste doen (maar dit moet eers volgende week gedoen wees)? Ens. Vir die takies wat jy te moeilik vind om aan te pak, dwing jouself om dit in 25 minuut sessies te doen. Dit word die Pomodoro-tegniek genoem. Werk uit hoeveel Pomodoros (25 min. sessies) jy per taak benodig. Die vyf minute aan die einde is jou tyd vir ‘n vinnige tee’tjie en maak seker dat jou aandag nie in daardie Pomodoro-tyd deur iets soos tegnologie afgetrek word nie. O ja. Al ooit gehoor van die woordjie NEE? Hierdie kragtige towerwoordjie is nie ‘n spesiale woordjie wat net elke noooou en dan gebruik mag word nie. Leer om nee te sê. Jy kan nie alles doen nie en jy is nie die enigste persoon in die span opvoeders nie.

  1.  Kyk beter na jouself

Eet elke pouse. Al sit jy in daardie vergadering met die VRL. Jy moet eet. Bly weg van te veel koffie af.

Probeer om ‘n balans te handaaf. Indien jy oor naweke werk, besluit om een dag af te vat en iets lekker te doen saam met jou gesin, vriende of troeteldier. En as jy daardie moeilikheidmakertjie daar in die winkelsentrum raakloop, maak seker dat jy sommer ‘n groot bohaai opskop en hallo van vêr af skreeu. Groet sommer mamma en pappa en ouma en die mini-moeilikheidmakertjies wat nog op pad is na jou klas toe. Ou moeilikheidmakertjie gaan daar staan en amper in die broekie tjorts, want Juffrou of Meneer gaan dalk vir Ma vertel hoe stout Kosie of Sannie in die klas is. Maar gaan jy? Herinner sommer vir ou moeilikheidmakertjie die volgende dag in die klas (voor almal) dat dit tog so heerlik was om die hele gesin te ontmoet en dat jy daardie selfoonnommer wat Ma vir jou gegee het sommer mooi naby gaan hou. Indien jou kinders soos myne is,  wat jou van vêr af al raaksien en begin waai en drukkies en ‘n hallo en alles daarby wil gee: HARDLOOP.

Nogal? Wys hulle.

Jy moet ook onthou dat jy slaap nodig het om te funksioneer. Wanneer jy iets nie gedoen kry nie, gaan jy dit nou maar net môre moet doen. Sien, dis waar die Pomodoro-tegniek nou weer handig is. Jou brein funksioneer nie lekker as jy moeg is nie. Kyk hierdie video as jy my nie glo nie. Probeer ook om een of ander tipe oefening te doen. As jy nie na jouself kyk nie, hoe gaan jy na honderde ander mensies kyk?

  1. Kry hulp

Party skole se atmosfeer en kultuur is van so aard dat mens nie altyd welkom voel om om hulp te vra nie. Maar dit kan sekerlik tog nie waar wees nie. Dis dalk ‘n kompliment aan iemand wanneer jy hulle vra vir hulp. Moet net nie verwag dat ander mense jou werk vir jou moet doen nie. Sluit aan by Facebook-groepe soos Onderwysers! en Onnies Online asook Juffer Juffrou vir die Grondslagfase-onnies. Indien daar nie iemand by die skool is wat gewillig is om te help nie, is daar sekerlik een aanlyn.

Dis nou maar al wat ek al probeer het. Indien jy enige ander goeie idees het, laat weet ons deur kommentaar te lewer hier onder. Ek hoop julle bly sommer nog lank in die onderwys. Ons, as ‘n land, het julle nodig!

Hierdie artikel is deur hierdie artikel op Edutopia geinspireer.

Onlangse artikels

Verkoop jou hulpmiddels aanlyn

Vakante onnie-poste

Hulpmiddels deur Onnies Online

Woordeskatlyste vir Afrikaans EAT

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.