Share This Post

nuus

Stereotipes in die onderwys – wat sê die onderwysers?

Stereotipes in die onderwys – wat sê die onderwysers?

Onderwysers werk net halfdag, hulle drink net heel dag tee, hulle kon nie iets met hulle lewe doen nie en daarom onderrig hulle en hulle hou hopeloos te veel vakansie. Hierdie is maar ‘n paar van die stereotipes waarmee ons as onderwysers maar net moet saamleef. In hierdie artikel word die inligting van 534 Afrikaanssprekende onderwysers, reg oor Suid-Afrika, gebruik om ‘n prentjie te vorm oor wat onderwysers eintlik doen. Hierdie was ‘n informele vraelys en definitief nie wetenskaplik nie, die inligting is egter baie waardevol!

 

Algemene inligting:

Van al die onderwysers wat deelgeneem het aan die opname, is 91.9% vrouens. Die fase van onderrig was heel goed verdeel met 30.1% wat Grondslagfase onderrig, 23.1% wat Intermediëre fase onderrig, 25% wat Seniorfase onderrig en 20.6% onderrig in die VOO-fase. 1.3% van die deelnemers onderrig in LSEN-skole of bied ander bystand in die onderwys soos byvoorbeeld as ‘n skoolhoof.

 

Die onderwysers wat aan die vraelys deelgeneem het, is ook goed verspreid volgens hulle ervaring. Vir 5.2% is dit hulle eerste jaar in die onderwys, 51.4% onderrig tussen 1 en 10 jaar, 35% onderrig tussen 11 en 30 jaar en 8.4% is al meer as 30 jaar in die onderwys.

 

Hier kan die verspreiding tussen publieke skole en privaatskole gesien word.

 

Stereotipe 1: Onderwysers is nie bevoegd nie

Volgens een stereotipe is onderwysers slegs in die klaskamer omdat hulle niks anders met hulle lewens kon doen nie. Persoonlik weet ek dat ek ‘n onderwyser geword het omdat dit ‘n passie is. Vele onderwysers het op die vraelys gesê dat onderwys nie ‘n beroep is nie, maar ‘n professie of ‘n roeping. Ek wil graag ‘n uitdaging rig aan almal wat dink onderwys is vir mense wat niks anders kon doen nie – gaan vind ‘n paar mense wat uit die besigheidswêreld in onderwys ingegaan het (en andersom) en vra vir hulle wat die verskille is – jy sal sommer gou leer dat onderwys deel is van jou murg en been en nie net ‘n beroep om jou besig te hou nie.

 

Hier is die feite:

Dit is duidelik uit hierdie grafiek dat geen van die onderwysers wat aan die opname deelgeneem het nie studeer het nie. 61.2% het 4 jaar studeer wat gelyk is aan ‘n onderwysgraad of ‘n bachelors-graad met ‘n onderwysjaar daarna. Die interessante opmerking wat gemaak kan word, is dat 34% van die onderwysers meer as 4 jaar studeer het. Dit beteken dat 98 mense 5 jaar studeer het en 84 het 6 of meer jare studeer.

 

Stereotipe 2: Onderwysers ontspan baie

Ek self het al deurgeloop onder die siening dat ons heel dag in die personeelkamer sit en tee drink. Tussen die fisiese onderrig, beplanning, toetse- en werkkaarte opstel, navorsing oor beter maniere om kennis oor te dra, administrasie, buitemuurs, pousediens, ekstra lesse, detensie en ure se merkwerk , weet ek nie waar hierdie stereotipe se wortels sy oorsprong vind nie.

 

90.3% van die onderwysers het aangedui dat hulle onderrig sonder enige hulp van ‘n assistent en 1.4% het soms ‘n klassassistent. Dit beteken dat alle beplanning, onderrig, merkwerk en admin net op die onderwyser se skouers rus.

 

In die volgende grafiek kan gesien word dat daar ‘n gemiddeld van 25 tot 35 kinders in ‘n klas is en 31.7% van onderwysers het aangedui dat hulle meer as 35 leerders in ‘n klas het. Dit is amper ‘n derde! Kan jy jou voorstel dat jy so baie kinders op ‘n slag intellektueel moet stimuleer, orde moet hou, seker moet maak almal is besig met hulle werk, die paar leerders wat sukkel moet help, ekstra werkkaarte (of meer uitdagende werk) vir die leerders wat goed doen kry en daar wees vir die een wat hartseer is. Moet ook nie vergeet om hulle te herinner aan die taak wat oormôre moet inwees, die huiswerk inneem wat jy vanmiddag moet merk nie en om afwesighede te doen nie. Hierdie is maar net ‘n paar goed wat in elke les moet gebeur en om individuele aandag aan elke leerder te gee, is iets waarna enige goeie onderwyser streef.

Noudat die grootte van die klasse agter die rug is, is dit ook belangrik om daarop te let dat 57% van die onderwysers wat deelgeneem het aan die opname meer as een graad onderrig. Baie van die onderwysers wat net een graad onderrig, sien ook meer as een klas per dag. Dit bring ons by die volgende vraag – hoeveel leerders onderrig elke onderwyser in totaal?

 

14.1% van onderwysers onderrig meer as 200 leerders, 26.8% onderrig tussen 100 en 200 leerders, 32.2% onderrig tussen 30 en 100 leerders en slegs 18.4% het minder as 30 kinders om na om te sien.

 

Daar is vir die onderwysers gevra hoeveel van die tyd in ‘n dag onderrig hulle nie (sogenaamde “aflesse”. 14.8% het aangedui hulle het 1 tot 2 uur af per dag, 28.8% het gesê hulle het 1 uur af, 36.9% het aangedui hulle het 30 minute af en ‘n verstommende 10.1% het geen lesse af nie. Hier kom die skokkende gedeelte –  Daarna is vir die onderwysers gevra hoeveel van daardie tyd kry hulle om te rus. Met ander woorde, hoeveel van daardie tyd is hulle nie in vergaderings, ekstra lesse, besig met beplanning, om werk af te rol, besig met administrasie of ander skool-verwante werk nie en hierdie was die uitslae:

‘n Mens moet een uur afkry na vyf uur se werk en dus behoort alle onderwysers een uur per dag te kry om te eet en te rus. Ongelukkig is dit nie die realiteit nie.

 

Stereotipe 3: Onderwysers werk halfdag

Hierdie is waarskynlik die stereotipe waarna ek die graagste wil kyk. Hier sal ons kan sien hoeveel uur die gemiddelde onderwyser per dag werk en ook watter skoolwerk steeds gebeur wanneer hulle reeds by die huis is.

 

Volgens die Basic Conditions of Employment Act (BCEA), is die maksimum tyd wat toegelaat word om normale werksure te hê 45 uur per week. Dit is dus 9 uur per dag.

 

56.3% van die onderwysers het aangedui dat hulle tussen 7:00 en 7:30 by die skool moet wees in die oggend. 33.3% moet reeds tussen 6:30 en 7:00 daar wees.Vir die doeleindes van hierdie artikel, gaan ek die gemiddeld van 7:00 gebruik vir die tyd wat onderwysers by die skool aankom. 45.5% van onderwysers gaan tussen 15:00 en 16:00 huis toe. 24.2% gaan eers na 16:00 huis toe. Vir die artikel gaan ons dan die gemiddeld van 15:00 gebruik. Dit beteken dat onderwysers gemiddeld 8 uur per dag werk. Dit is gelyk aan 9:00 tot 17:00 in die besigheidswêreld. Dit beteken dat die gemiddelde onderwyser 40 uur per week by die skool is.

 

Van die 534 onderwysers wat deelgeneem het, doen 85.8% ook buitemuurs na skool. Hierdie buitemuurs is nie beperk tot skooldae nie en baie onderwysers gee hulle naweke op om leerders te vergesel of by te staan by hulle buitemuurse aktiwiteite.

Verder bied 62.2% van onderwysers ook ekstra lesse na skool aan vir leerders wat sukkel om te presteer. Hierdie lesse verg dikwels individuele aandag van die onderwyser en kan nie altyd in groepsverband aangebied word nie. 46.3% van onderwysers het aangedui dat hulle tussen 30 minute en 2 uur per week ekstra spandeer aan ekstra lesse.

Dit is baie selde dat onderwysers sonder werk huis toe gaan aangesien 84.6% aangedui het dat hulle werk by die huis moet nasien. 92.1% stem saam dat daar nie tyd by die skool is om beplanning te doen nie en dat hulle noodgedwonge hulle tyd by die huis daarvoor opoffer. 76.4% sê hulle maak werkvelle by die huis, 80.5% sê hulle spandeer tyd op navorsing om nuwe idees en ander maniere van inhoud onderrig te vind en 72.7% sê hulle maak goed vir hulle klasse. 15.9% gebruik ook hulle tyd by die huis om goed te maak of te verkoop vir ‘n ekstra inkomste. Dit bring ons by die gevolgtrekking oor hoeveel tyd onderwysers gemiddeld per week by die huis aan skoolwerk spandeer.

 

In die grafiek hier onder is dit duidelik dat onderwysers baie van hulle vrye tyd opoffer vir skoolwerk. Om duidelikheid te gee aan die “geen”-afdeling, is dit noemenswaardig dat 3 onderwysers gesê het hulle spandeer geen tyd by die huis aan skoolwerk nie en dit is dan ‘n totaal van 0.6%.

 

Stereotipe 4: Onderwysers hou te veel vakansie

Onderwysers kry net soos kinders vier vakansies per jaar. Daar is twee kante aan hierdie saak. Hoeveel van daardie vakansies gebruik hulle om te ontspan en het hulle soveel tyd nodig?

 

Baie onderwysers het aangedui dat vakansies nodig is omdat die werk so emosioneel uitputtend is. Dit is interessant om te sien wat van die onderwysers gesê het. Hier is ‘n paar anonieme opmerkings:

  • Kinders tap jou brein en om 35 kinders met verskillende vermoëns op een slag te akkomodeer en te leer sodat hulle slaag, verg baie van ‘n mens. Fisies nie so moeg nie, maar geestelik gedreineer.
  • Kinders se sosiale en ekonomiese omstandighede put onderwysers geweldig uit. Waar die mense in die korporatiewe wêreld hulself kan afsluit van die werk in die aand of oor vakansies. Is daar altyd onderwysers wat nagte wakker lê en hom/haarself bekommer oor sekere leerders in die klas.
  • Op die ou einde gaan dit oor die kind. Wil graag n inspirasie wees en iewers iemand aanraak. Wil ook altyd kan sê ek het my bes gegee veral vir die afvlerk kindertjies.

 

Hoe voel die onderwysers oor die onderwys?

Waar bring hierdie statistieke en die stand van sake ons onderwysers? 54.4% van onderwysers geniet dit om te onderrig, terwyl 41.2% dit soms geniet en 4.3% dit nie geniet nie. Vir onderwysers gaan dit oor die kinders en 67.4% sê dat die gedeelte van onderwys wat hulle die meeste geniet, is om met die kinders te werk. 53.3% sê hulle hou die minste van die admin en 19.9% sê dat ouers dit moeilik maak om hulle beroep te geniet.

 

41% van onderwysers sien nie hulleself meer in die onderwys oor 10 jaar nie.

 

Die meeste onderwysers is so passievol dat hulle hulle eie geld sal gebruik om onderrig pret en effektief te maak. 54.7% van onderwysers het aangedui dat hulle geen geld by die skool kry vir hulpbronne nie. Daar is vir hulle gevra hoeveel van hulle eie geld hulle spandeer op hulpbronne en om goed aan te skaf vir die skool en meeste onnies het aangedui dat hulle meer as R500 per jaar van hul geld bestee aan hulpmiddels. 22% het gesê dat hulle meer as R2000 per jaar spandeer.

Uit ‘n persoonlike oogpunt weet ek dat ek ongelooflik lief raak vir die kinders in my klasse. Onderwysers spandeer nie net hulle werksure om hulle “werk” te doen nie. Hulle gee hulle vrye tyd ook en baie onderwysers lê nagte wakker en dink aan daardie kinders wat ‘n bietjie ekstra liefde en aandag nodig het. Ons onderrig nou leerders vir beroepe wat nog nie bestaan nie. Elke onderwyser, sielkundige, prokureur, ingenieur, geoloog, dosent en elke ander beroep daar buite het daar gekom deur die leiding en omgee van onderwysers. Dit is hartseer dat mense so neerkyk op ons roeping, en eintlik na hierdie hele studie, het ek net twee gedagtes.

Aan al daardie mense wat olie op hierdie stereotipe-vuur gooi en ons daardeur seermaak – Dit maak eintlik nie saak hoe jy oor ons beroep voel nie, jou kind sal steeds vir ons eerste kom. Aan my mede-onnie-kollegas, hou aan so hard werk, hou aan so baie gee. Ons doen dit omdat ons hierdie liefde in ons harte gekry het, ek dink ons is fantasties en hierdie statistieke het juis my oë oopgemaak oor hoeveel ons bereid is om te gee.

Nog kommentaar:

LEES VERDER

Lees die nuwe Teacha! tydskrif vir meer onnie-idees

Dinge om die eerste dag van skool te doen

10 koöperatiewe leerstrategieë (en apps wat handig is daarvoor)

Adverteer onderwysposte / vind jou droompos!

Alles wat fout is met ons skole in een video

Quizpedia: Laat leerders hul eie vasvrae ontwerp!

6 Memes wat net onnies sal verstaan

Maklike DIY vir ingenieurtjies in jou klas – STE(A)M

Quizlet: Maak digitale flitskaarte!

Idees vir poësie-maand

5 Wenke vir beter klaskamerbestuur

Idees: Maak jou eie leeshulpmiddel!

Idees: Maak stil snoesies!

Inspirasie: Maak jy ‘n verskil?

Inspirasie: Hoe om ‘n gebroke skool heel te maak

Digitale Media in die Afrikaansklas

Share This Post

Wilmari Pretorius is 'n Afrikaans Huistaal en Eerste Addisionele Taal-onderwyseres in Gauteng. Sy het 'n BA graad in Taal en Kultuur en 'n nagraadse onderwyssertifikaat verwerf by die Universiteit van Stellenbosch. Sy is passievol oor twee dinge: Afrikaans en kinders. In haar vyf jaar in die onderwys, het sy besef dat daar baie tyd en kreatiwiteit nodig is om leerders te motiveer om te leer. Daaruit het haar liefde vir die tegnologie gespruit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>